Byderhand Rusplekstories is 'n interaktiewe leeservaring vir ieder en elk. Lees kortverhale en kinderstories in Potchefstroom, oor Potchefstroom, deur skrywers van Potchefstroom.
De Jonge Akker, Studentesentrum, Potchefstroomkampus, NWU.
“As jy ‘n dorp regtig wil leer ken, moet jy nie in sy kerke sit of uithang in sy kroeë nie. Jy moenie na die damestee of die uitvoerings by die teater gaan nie. Jy moenie sy studente leer ken nie, want hulle is in elk geval almal dieselfde en daar is niks om te leer nie. As jy ‘n dorp wil ken, moet jy miskien na sy bome kyk. Die eikelaan. Miskien moet jy na die Mooirivier loop en gaan sien wie stap daar teen skemer met hul honde. Maar die heel beste manier om ‘n plek te leer ken, is eintlik deur jou deel te maak van sy waansinniges.” (Marlize Hobbs, As sy weer kom)
Byderhand Rusplekstories is aangebied by Clover Aardklop Nasionale Kunstefees 2015 (6 tot 10 Oktober 2015). Besoekers aan die kunstefees kon die kortverhale en kinderstories by die Boeke-Oase, Gebou B2, NWU, Hoffmanstraat, Potchefstroom lees. Sedert Augustus 2016 kan die Rusplekstories gelees word in De Jonge Akker op die NWU-Potchefstroomkampus.
Lees kortverhale en kinderstories deur skrywers en kunstenaars soos Harry Kalmer, Sophia Kapp, Helene de Kock, Roela Hattingh, Nelia Engelbrecht, Frederick J. Botha, Leon de Villiers, Flip Hattingh, Zinelda McDonald en Deon Meiring. Alle verhale speel in Potchefstroom af.
De Jonge Akker is 'n koffiewinkel in die studentesentrum op die kampus van die Noordwes-Universiteit, Potchefstroom. Hier kan jy die beste koffie op die NWU Potchefstroom kampus drink. Met 'n akademiese gevoel, waar studente, dosente en ouers lekker kan sit en kuier. Tye 07:00 - 20:00.
Toestemming: Byderhand is 'n kreatiewe en navorsingsprojek oor plekspesifieke digitale literatuur. Wanneer jy deelneem aan die projek verleen jy toestemming dat die data vir navorsingsdoeleindes gebruik kan word. Jou deelname aan en terugvoering oor die projek is waardevol.