Byderhand Tuinverse is 'n interaktiewe leeservaring vir ieder en elk. Lees met jou selfoon of tablet gedigte en versies in die Botaniese Tuin oor die tuin.
Botaniese Tuin, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom
die Mooirivier stroom van die noorde af
die mooi dorp binne
ons dorp is liewer dorp as stad
(TT Cloete, Potchefstroom, 2015)
Vyftien digters het werk geskryf wat by die Botaniese Tuin pas. Ervaar hoe digters self hulle gedigte voorlees. Die werk word aangevul met kunswerke deur Strijdom van der Merwe waarin die gedigte visueel uitgebeeld word. ʼn Verdere toevoeging tot die ervaring is musikale verwerkings en tipografiese animasie. Die digters sluit in T.T. Cloete, Johan Myburg, Tom Gouws, Heilna du Plooy, Carina van der Walt, Hans du Plessis, Bernard Odendaal en ander.
Vir jonger lesers is daar ʼn tuin vol kinderversies deur Franci Greyling.
Skandeer die QR-kode by die bankies, sit rustig terug, en ervaar die tuin op ʼn nuwe manier. Bring gerus oorfone saam vir ʼn persoonliker ervaring.
Die grootste gedeelte van die Botaniese Tuin is toeganklik vir rolstoelgebruikers.
Die NWU Botaniese Tuin word deur die Skool vir Omgewingswetenskappe en Ontwikkeling van die Noordwes-Universiteit bestuur en is ’n lid van BGCI (Botanic Gardens Conservation International). Die Botaniese Tuin vervul talle belangrike funksies in die Skool vir Omgewingswetenskappe en Ontwikkeling en die plaaslike gemeenskappe. Belangrike aktiwiteite van die NWU Botaniese Tuin sluit in:
• Verskaffing van praktiese materiaal vir die opleiding van studente
• Bewaring van skaars en bedreigde plante
• Navorsing en navorsingsondersteuning
• Opvoeding van die plaaslike gemeenskappe oor relevante omgewingskwessies
Kort geskiedenis
Die NWU Botaniese Tuin se oorsprong strek terug na 1962, toe dr. WJ Louw, ’n Plantkunde-lektor, die tuin ontwikkel het om plantmateriaal vir Plantkunde-praktikums te verskaf. Met die koms van dr. DJ Botha, ’n Plantkunde-lektor in Taksonomie, in 1971 was die impetus daar om ’n botaniese tuin te ontwikkel. In die 1970’s het die Botaniese Tuin onder die toesig van mnr. B Ubbink, die eerste kurator, floreer. Op 24 November 1982 is die Botaniese Tuin amptelik vir die publiek oopgestel deur dr. WJ Louw. Die Botaniese Tuin geniet tans ’n groot herlewing en is beslis die moeite werd om te besoek.
Tuin en klimaat
Die Botaniese Tuin is langs die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit geleë. Dit dek ’n oppervlakte van bykans drie hektaar. Die meeste van die plante in die Botaniese Tuin is inheems, met die uitsondering van ’n paar eksotiese plante wat van botaniese, medisinale of opvoedkundige belang is. ’n Gedeelte van die tuin rondom ’n mensgemaakte rotsrif word as ’n natuurlike veldtuin bestuur, terwyl die res van die tuin meer intensief bestuur word. ’n Verskeidenheid soogdiere, voëls, amfibie en visse het die afgelope jare die tuin hulle tuiste gemaak, en verskaf ’n hele nuwe dimensie aan die Botaniese Tuin.
Potchefstroom is in ’n laagliggende gebied aan die Mooirivier in die Hoëveldstreek van Suid-Afrika geleë. Die streek word gekenmerk deur koue, droë winters met ryp wat dikwels voorkom, en warm somers met gereelde donderstorms. Die gemiddelde reënval is 767 millimeter per jaar. As gevolg van koue lug wat in hierdie laagliggende gebied afsak, is temperature so laag as minus 10 °C in die winter in die Botaniese Tuin gemeet. Hierdie uiterste klimaat het ’n groot invloed op die verskeidenheid plantspesies wat met sukses in die tuin gekweek kan word.
[ http://www.nwu.ac.za/af/content/botaniese-tuin-tuin]
As kunstenaar was ek nog altyd geïnteresseerd in die verwantskap tussen mens en die natuur. Ons is onherroeplik deel van die siklusse van die natuur en lewe en in my skeppingsproses is ek voortdurend op soek na die noue kontak. Om te werk in die natuur maak jou bewus van die subtiele verhoudings van verandering en 'n oomblik se waarneming kan 'n permanente indruk laat sonder om eienaarskap daarvan te neem. Potchefstroom en veral die Botaniese Tuin het al vir die afgelope paar jare 'n waardevolle bron van inspirasie vir my werk geword. Om vanjaar betrokke te kan wees by digterlike interpretasie en visuele uitbeelding is 'n wonderlike uitdaging.
Toestemming: Byderhand 2015 is ʼn kreatiewe en navorsingsprojek oor plekspesifieke digitale literatuur. Wanneer jy deelneem aan die projek verleen jy toestemming dat die data vir navorsingsdoeleindes gebruik kan word. Jou deelname aan en terugvoering oor die projek is waardevol.